Sunday, May 29, 2011

In Memoriam: Dr JJ Steenkamp 1946-2011

Die afsterwe van dr JJ (Stone) Steenkamp van Kameeldrift, Pretoria, na 'n tragiese motorongeluk, laat 'n yslike leemte in ons Afrikaanse kerklike- en kultuurkringe. Hy was 'n deeglik-onderlegde en kritiese denker aan die behoudende kant van die Afrikanervolk; en sy spore lê diep getrap in die stryd van die afgelope 40 jaar. Reeds in studentedae by die Universiteit van Pretoria het Stony Steenkamp, soos ons hom almal genoem het, sterk uitgestaan as iemand wat sake beoordeel op grond van sy Christelike beginsels en die beste Afrikanertradisie; maar hy was wat hierdie sake betref altyd waaksaam en gebalanseerd in sy uitsprake of en in sy optrede. Hy het eerder teruggekeer na die grondtekste en die oorspronklike vrae, as om bloot sy persoonlike mening te lug; vir hom was die aanwysers van die Afrikanervolk se leiers in die verlede, hul gefundeerde beskouings, van sy belangrike aanknopingspunte in enige gesprek. In die teologie en in kerklike kringe was dit dan ook sy kenmerkende werkwyse: hy sou steeds vra na die riglyne van die gelowige denkers wat ons Reformatoriese kerke ten grondslag lê. In hierdie strewe was 'n figuur soos Johannes Calvyn vir hom van sleutelbelang, asook uiteraard, dit wat die Skrif leer aangaande ons lewens- en geloofstaak. Dr Steenkamp het nie 'n skeidslyn getrek tussen geloof en kultuur, of tussen geloof en jou politieke oortuigings nie; daar moes 'n kongruente beskouing in jou lewe wees wat deurwerk op alle terreine. In wese is dit die kern van die Calvinistiese filosofie. En dit staan teenoor die gefragmenteerde, ongefundeerde, en pragmatiese denke van die liberalisme; en lynreg teen die rewolusionêre, reduksionistiese denke van die Marxisme wat slegs die materiële sy van sake raaksien.
Omdat sy denke so bewapen was, ook deur 'n intense studie van oorspronklike skrywers en primêre bronne, het dr JJ Steenkamp in die kringe van die Hervormde Kerk van Afrika talle beredeneerde lesings, preke en geskrifte gelewer wat Afrikaners tot besinning gebring het oor die tendense van die tyd, oor die gevare van die politieke omwentelings in Suid-Afrika en die aanslae op die Kerk en sy belydenis. Daarin kon lesers of luisteraars altyd 'n duidelike reformatoriese stem verneem - ook wanneer dit gegaan het oor die toepassing van beginsels in die alledaagse lewe, hetsy wat politieke of kulturele sake aanbetref. Hy het die aanslae van buite op die Afrikaanse volkslewe bestudeer, die aanvalle op die Afrikaners se kerke en die aanslae op die geloofslewe self - en kon daaroor gesaghebbend praat. Min predikante doen hierdie soort moeite sedert die nuwe liberale denke in die sestigerjare in die Afrikaanse kultuurlewe populêr begin raak het en deur al hoe meer teoloë nagevolg is.
Dit is dan geen wonder nie, dat dr JJ Steenkamp in die jongste verwikkelinge in die Hervormde Kerk 'n leiersrol sou speel nie. Juis in hierdie opsig laat hy 'n onmiddellike leemte - te meer so, omdat "Stony" ook die goeie diplomaat was, die gebalanseerde en kalm denker by wie almal om raad aangeklop het. Met sy heengeen moet ons afskeid neem van 'n gewaardeerde vriend, 'n stoere en onwrikbare Afrikaner, en van 'n geloofsmens wat nie teruggedeins het vir die moeilikhede van ons tyd nie. Hy het moed gehad. Hy was 'n leier. Ons sal hom altyd mis.
______________________________________________________________
(Bydrae deur 'n medewerker) 29 Mei 2011

No comments:

Post a Comment