Thursday, September 1, 2011

6 September 1966 - Vrae wat bly


Senior ministers en weermag-offisiere dra die kis van dr HF Verwoerd op 10 September 1966 in Pretoria.
Die verraderlike en noodlottige aanslag op die lewe van dr HF Verwoerd, die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, op 6 September 1966 bly steeds in die herinnering van die Afrikanervolk. Te oordeel aan die publikasie van boeke, briewe en radiogesprekke is dit duidelik dat die vrae rondom die gebeure van Augustus en September 1966 aktueel bly en in vele opsigte nog onbeantwoord is. Die implikasies van die gebeure word ook verskillend vertolk. In 'n onlangse film, "Roepman", word op onmiskenbare wyse daarop gesinspeel dat die dood van dr Verwoerd 'n soort emosionele verlossing vir die mense van Suid-Afrika beteken het. In 'n boek wat heelwat sensasie verwek het (Die Lang Generaal) word weer gesuggereer dat dr Hendrik van den Bergh sy moordspan gebruik het om dr Verwoerd uit die weg te ruim omdat dr Verwoerd na bewering besluit het om sy beleid te versag en 'n ander koers daarmee in te slaan. Oor Radio Pretoria is daar 'n gebalanseerde aktualiteitsprogram aangebied waaraan verskeie kenners deelgeneem het en kommentaar gelewer het oor die lewe van dr Verwoerd, oor sy betekenis vir die Afrikanervolk en die moontlike redes en motivering agter die sluipmoord op hierdie onkreukbare en standvastige volksleier. Van die belangrikste kwessies rondom die sluipmoord is die volgende:
  1. Dit is duidelik dat daar die een of ander voorkennis of antisipasie was van die aanslag op dr Verwoerd se lewe. Eerstens is daar die getuienis dat die dood van dr Verwoerd ter sprake gekom het by die Kaapse hawe waar daar op 'n Griekse skip (die Eleni) navraag gedoen is oor die dood van dr Verwoerd  - dit was op 3 September, drie dae voor die moord! Die sluipmoordenaar (Dimitrio Tsafendakis) het oor 'n tydperk van 40 dae talle besoeke afgelê by hierdie skip en hy het daar wapens probeer bekom. Daar was ook 'n soortgelyke berig van 'n navraag oor die aanval in Brittanje. Tweedens was daar die uitgawe van die Amerikaanse tydskrif TIME, 'n week voor die aanslag, waarin 'n krasse tekening van dr Verwoerd prominent op die voorblad geplaas is en daar gesuggereer is dat dr Verwoerd se party verdeeld is en sy vyande aktief is binne die Nasionale Party. Dan was daar derdens 'n uitgebreide voorbladberig in 'n Sondagblad, ook 'n week voor die sluipmoord, wat berig het dat dr Verwoerd se leierskap bevraagteken word en dat daar gedink word daaraan om dr Verwoerd as leier van die NP te vervang met iemand van buite die parlement en van buite die politieke arena. Dr Anton Rupert se naam word vervolgens pertinent genoem as die moontlike opvolger vir dr Verwoerd. Die berig lui op 'n onheilspellende toon dat "die messe uit is in die Nasionale Party" en dat dit gemik was op dr Verwoerd se leierskap. (Dr Verwoerd is met vier messteke om die lewe gebring in sy bank in die Volksraad.)
  2. In sy boek A Very Strange Society, gebaseer op 'n uitgebreide toer in Suid-Afrika, juis in die maande wat die sluipmoord voorafgegaan het, word daar berig oor die skrywer (Alan Drury) se vertroulike gesprekke met prominente Kaapse sakelui, belangrike joernaliste en akademici wat gewag gemaak het van groot veranderinge in die beleid van die NP wat binne enkele jare sou kom. Hulle het duidelik daarop gesinspeel dat dr Verwoerd op pad uit was. Wat het hierdie belangrike mense geweet? Waarom was hulle so seker dat daar sogenaamde "groot veranderinge" in beleid gaan kom? Op welke basis kon hulle dit weet, as dr Verwoerd op die kruin van sy loopbaan gestaan het, inderdaad blakend gesond was en wye vertroue geniet het in sy eie party, en toenemend ook steun ontvang het van Engelssprekendes?
  3. Een van die tergende vrae, wat dikwels na vore kom is: Wie kon voordeel getrek het uit die sluipmoord? In enige kriminele ondersoek is dit 'n standaardvraag wat speurders op die spoor van die skuldiges kan plaas. In hierdie verband is dit duidelik dat twee persone direk voordeel getrek het uit die gebeure: Mnr John Vorster ('n relatiewe junior minister in dr Verwoerd se kabinet) het dr Verwoerd opgevolg as Eerste Minister, en generaal HJ van den Bergh (o.a. verantwoordelik vir dr Verwoerd se veiligheid, vanuit sy hoedanigheid as Hoof van die Veiligheidspolisie) het as mnr John Vorster se vertroueling in 'n ongekende magsposisie ingeskuif. In 1969 is hy deur mnr Vorster aangestel as die Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Beide hierdie figure was in die veertigerjare lede van die Ossewabrandwag, en mnr Vorster het eers in 1953 by die Nasionale Party aangesluit. Die Buro (BOSS) het onmiddellik in sy werksaamhede aandag geskenk aan mnr Vorster se politieke opponente in Afrikanergeledere. Daar is natuurlik ook andere wat voordeel getrek het - baie spesifiek ook die groep "Kaapse sakelui, joernaliste en akademici" waarna Alan Drury in sy boek verwys het. Hulle was na die sluipmoord in staat om die NP se beleid in 'n liberale en linkse rigting te stoot; presies volgens die oogmerke en verwagtings wat hulle voor die sluipmoord uitgespreek het.
  4. 'n Belangrike aspek waaroor daar al meer vrae gevra word is waarom die ondersoek na die sluipmoord so vinnig afgehandel is - dit is binne twee maande voltooi. Hierdie haas en oppervlakkigheid van die ondersoek (uitgevoer deur 'n eenman-kommisie) staan in kontras met die Warren-kommissie se ondersoek na die sluipmoord op president John F Kennedy. In Kennedy se geval is 'n enorme span ondersoekers gebruik en het die verslag (wat duisende bladsy beslaan het) eers 'n jaar later verskyn. In die geval van die ondersoek na die aanslag op dr Verwoerd is 'n skamele verslag van dertig bladsye in die Staatskoerant gepubliseer. Aan die moontlike nalatigheid van die SA Polisie word daar slegs enkele bladsye gewy; terwyl die fokus verskuif word na die nalatigheid van junior amptenare in die Departement van Binnelandse Sake.
  5. In enige staat met selfrespek, of in 'n regerende party met selfrespek, sou die verantwoordelike minister of ministers (in hierdie geval mnr Vorster van Justisie , en die minister van Binnelandse Sake) moes bedank het; asook die hoof van die veiligheidspolisie, in hierdie geval generaal Hendrik van den Bergh. In plaas van afgedank te word het hierdie twee here die magtigste manne in die regering geword.
  6. Uit 'n politieke hoek beskou is dit vandag duidelik dat mnr John Vorster spoedig nadat hy as leier verkies is, die Nasionale Party se beleid in 'n liberale rigting begin stoot het - in vele opsigte in stryd met die standpunte en beleid van dr HF Verwoerd. Mens dink in hierdie verband onmiddellik aan veranderings tov die sportbeleid van die NP, die hantering van die Suidwes-Afrika vraagstuk en mnr Vorster se optrede jeens Rhodesië en die Portugese gebiede, naamlik Mosambiek en Angola. Mnr Vorster het so sterk weggeswaai van die Verwoerd-denkbeeld dat dit tot 'n ernstige skeuring in die NP gelei het, binne slegs drie jaar nadat hy die leier van die NP geword het. Die Erika Theron Kommissie ivm die posisie van die Kleurlinge is spoedig daarna aangewys en daaruit het die hele proses van grondwetlike hervorming in die RSA ontstaan - in ooreenstemming met die wense van die sakelui en joernaliste met wie Alan Drury voor die sluipmoord vertroulike gesprekke gevoer het.

Friday, June 3, 2011

Dr HF Verwoerd en die Republiek van 1961


Dit was opvallend dat daar by verskeie geleenthede die afgelope week aandag gegee is aan Republiekwording in 1961, al was daar nie op hierdie 50ste herdenkingsdag 'n amptelike staatsherdenking nie; die ANC-bewind het die oorsprong van die onafhanklike, selfstandige Republiek en ons vrywording van alle Britse bande in geheel geïgnoreer. maar Afrikaners het onthou. Die ANC beskou geen prestasie van die Republiek voor 1994 as iets wat geldig of waardevol is nie - die publiek se geheue moet vassteek by hulle weergawe van die geskiedenis; 1994 is dus Jaar Nul vir die ANC. Maar vir Afrikaners is die gebeure van 1961 van groot betekenis; en daarmee saam die merkwaardige leierskap van dr Hendrik French Verwoerd wat die finale fase van Republiekwording so meesterlik gelei het. In al sy toesprake destyds het hy uit sy pad gegaan om erkenning te verleen aan sy voorgangers, maar mettertyd is na hom verwys as "die argitek van die Republiek". Dit kon ook nie anders nie; sy naam sal altyd aan die ingrypende geskiedenis van die jare sestig en die vroeë prestasies van die Republiek verbind word. Daar was oor die afgelope weke hulde gebring op verskeie maniere aan die nagedagtenis van dr Verwoerd. 'n Borsbeeld is in 'n storm van kontroverse en polemiek van Meyerton na Pretoria gebring, dit is in Kleinfontein onthul op 'n spesiale geleentheid; die GHA het in sy lyfblad Tolbos verskeie artikels geplaas oor die rol van dr Verwoerd tydens Republiekwording, en in die Willie Marais-Afrikanersentrum in Pretoria is 'n gedenkaand gehou waartydens daar eweneens hulde aan dr Verwoerd gebring is. Dit is duidelik dat die figuur van dr Verwoerd, soos dié van president SJP Kruger, nie gaan verdwyn uit die volkslewe soos baie gewens het dit sou gebeur nie. Al het die ANC-SAKP bewind soveel name reeds verander om sy nagedagtenis uit te wis, en al is hoeveel standbeelde en borsbeelde al verwyder, kan die volksgeheue nie so maklik verknoei word nie. In die huidige era word dit al hoe duideliker dat die stabiliteit, orde en ekonomiese groei wat destyds in die onmiddellike jare na 1961 in Suid-Afrika gevolg het in skerp kontras staan met die rekord van die ANC-SAKP bewind na hul oorname in 1994. Die geweld in Natal tussen strydende groepe het byvoorbeeld nog vir drie tot vier jaar na 1994 voortgeduur; en daarby het die ANC-SAKP 'n kultuur van stakings, wanbesteding van staatsfondse, korrupsie en nepotisme gevestig - 'n toedrag van sake wat steeds voortduur. 'n Prominente skrywer, wat nie apartheid ondersteun nie, het onlangs opgemerk: "Die onderdrukking en tirannie (sic!) van die vorige era is vervang met 'n tirannie van geweld in die Nuwe Suid-Afrika". Soos vir daardie skrywer, word die apartheidsjare deur baie mense gesien as 'n tydvak van onderdrukking - tog was die Verwoerdvisie een waarin daar volle staatkundige, politieke en ekonomiese vryheid voorsien sou word aan elke volk in Suid-Afrika. Verskeie van hierdie volke het inderdaad in die dekade sewentig onafhanklik geword of volle selfbestuur verkry. Ontwikkelingskorporasies is in elke staat gevestig, en hierdie liggame was besig om sinvol te werk aan langtermyn infrastruktuur. Universiteite en skole is op etnies-kulturele grondslag gevestig en uitgebou. Nou is daardie geleenthede van alle volke van Suid-Afrika ontneem, en in die plek daarvan beleef Suid-Afrika 'n vorm van meerderheidsdiktatuur, lewe die burgers van die land onder die tirannie van misdaad en geweld - soos die skrywer waarna ek verwys het dit gestel het. In die plek van vrede, orde, stabiliteit en sinvolle etniese ontwikkeling sien die nuwe RSA ernstige verval in dienslewering, die wye misbruik van mag, en onbeholpenheid in die gewone staatsadministrasie. Die regering van Suid-Afrika begin al meer wegsink in die Afrika-patroon: deur eie bevoordeling, deur die skandelike verryking van regeringslui en hulle vriende, en gaandeweg deur die vernietiging van beskaafde standaarde. Dit alles bring die herinnering aan die Verwoerd-era weer op die voorgrond, omdat daardie era 'n kontrasterende voorbeeld bied van hoe uitnemende landsregering behoort te lyk.
________________________________________
(Plasing: 4 Junie 2011. Deur 'n Medewerker.)

Sunday, May 29, 2011

In Memoriam: Dr JJ Steenkamp 1946-2011

Die afsterwe van dr JJ (Stone) Steenkamp van Kameeldrift, Pretoria, na 'n tragiese motorongeluk, laat 'n yslike leemte in ons Afrikaanse kerklike- en kultuurkringe. Hy was 'n deeglik-onderlegde en kritiese denker aan die behoudende kant van die Afrikanervolk; en sy spore lê diep getrap in die stryd van die afgelope 40 jaar. Reeds in studentedae by die Universiteit van Pretoria het Stony Steenkamp, soos ons hom almal genoem het, sterk uitgestaan as iemand wat sake beoordeel op grond van sy Christelike beginsels en die beste Afrikanertradisie; maar hy was wat hierdie sake betref altyd waaksaam en gebalanseerd in sy uitsprake of en in sy optrede. Hy het eerder teruggekeer na die grondtekste en die oorspronklike vrae, as om bloot sy persoonlike mening te lug; vir hom was die aanwysers van die Afrikanervolk se leiers in die verlede, hul gefundeerde beskouings, van sy belangrike aanknopingspunte in enige gesprek. In die teologie en in kerklike kringe was dit dan ook sy kenmerkende werkwyse: hy sou steeds vra na die riglyne van die gelowige denkers wat ons Reformatoriese kerke ten grondslag lê. In hierdie strewe was 'n figuur soos Johannes Calvyn vir hom van sleutelbelang, asook uiteraard, dit wat die Skrif leer aangaande ons lewens- en geloofstaak. Dr Steenkamp het nie 'n skeidslyn getrek tussen geloof en kultuur, of tussen geloof en jou politieke oortuigings nie; daar moes 'n kongruente beskouing in jou lewe wees wat deurwerk op alle terreine. In wese is dit die kern van die Calvinistiese filosofie. En dit staan teenoor die gefragmenteerde, ongefundeerde, en pragmatiese denke van die liberalisme; en lynreg teen die rewolusionêre, reduksionistiese denke van die Marxisme wat slegs die materiële sy van sake raaksien.
Omdat sy denke so bewapen was, ook deur 'n intense studie van oorspronklike skrywers en primêre bronne, het dr JJ Steenkamp in die kringe van die Hervormde Kerk van Afrika talle beredeneerde lesings, preke en geskrifte gelewer wat Afrikaners tot besinning gebring het oor die tendense van die tyd, oor die gevare van die politieke omwentelings in Suid-Afrika en die aanslae op die Kerk en sy belydenis. Daarin kon lesers of luisteraars altyd 'n duidelike reformatoriese stem verneem - ook wanneer dit gegaan het oor die toepassing van beginsels in die alledaagse lewe, hetsy wat politieke of kulturele sake aanbetref. Hy het die aanslae van buite op die Afrikaanse volkslewe bestudeer, die aanvalle op die Afrikaners se kerke en die aanslae op die geloofslewe self - en kon daaroor gesaghebbend praat. Min predikante doen hierdie soort moeite sedert die nuwe liberale denke in die sestigerjare in die Afrikaanse kultuurlewe populêr begin raak het en deur al hoe meer teoloë nagevolg is.
Dit is dan geen wonder nie, dat dr JJ Steenkamp in die jongste verwikkelinge in die Hervormde Kerk 'n leiersrol sou speel nie. Juis in hierdie opsig laat hy 'n onmiddellike leemte - te meer so, omdat "Stony" ook die goeie diplomaat was, die gebalanseerde en kalm denker by wie almal om raad aangeklop het. Met sy heengeen moet ons afskeid neem van 'n gewaardeerde vriend, 'n stoere en onwrikbare Afrikaner, en van 'n geloofsmens wat nie teruggedeins het vir die moeilikhede van ons tyd nie. Hy het moed gehad. Hy was 'n leier. Ons sal hom altyd mis.
______________________________________________________________
(Bydrae deur 'n medewerker) 29 Mei 2011

Saturday, May 14, 2011

Terugflits 1960: Harold Macmillan en die winde van verandering in Afrika

Op 3 Februarie 1960 het mnr Harold Macmillan, die destyds eerste minister van Brittanje, 'n toespraak in die Parlement van Suid-Afrika gelewer. Hy was in Suid-Afrika op 'n staatsbesoek, na afloop van 'n amptelike toer deur Afrika. Wat hy te sê gehad het, het 'n redelike beroering veroorsaak. Dit is naamlik strydig met diplomatieke konvensie dat 'n staatsleier tydens so 'n besoek die binnelandse beleid van die gasheerland kritiseer. Nogtans het Macmillan uit sy pad gegaan om te suggereer dat die Suid-Afrikaanse regering met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling (rasseskeiding) in stryd is met die tendense van Afrika - en dat die vloedgolf van Afrika-nasionalisme onafwendbaar sou wees. Met die nuwe vlaag van Uhuru en gewelddadige rewolusies in Afrika, moes daar tot 'n skikking gekom word, aldus Macmillan. Die gedeelte in sy toespraak wat veral die aandag getrek het, was die volgende:

"The most striking of all the impressions I have formed since I left London a month ago is of the strength of this African National consciousness. The wind of change is blowing throughout the continent. Whether we like it or not, this growth of consciousness is a political fact. We must all accept it as a fact. Our national policies must take account of it. This means, I would judge, that we must come to terms with it. I sincerely believe that of we cannot do so we may imperil the precarious balance between East and West on which the peace of the world depends."

Wanneer mens hierdie oproep van Macmillan noukeurig lees, val 'n hele paar dinge mens op: (a) Dr Verwoerd se regering word terstond vermaan om die veranderinge in Afrika "as 'n feit te aanvaar" - met ander woorde, as iets waarmee daar nie geredeneer kan word nie; iets waaroor daar nie debat kan wees nie. Dit is voorts 'n "politieke feit" - maw dit gaan oor jou politiek. (b) Hy vertolk hierdie feit so dat dit jou dwing om jou daarmee te versoen, om tot 'n ooreenkoms te kom met Afrika-nasionalisme. (c) Macmillan dreig die SA regering dat as hulle nie sou inval by die veranderings nie, dat hulle dan die wankelende balans tussen die Ooste en die Weste in gevaar sou stel. Hoe mens dit ook al beskou was dit in wese 'n konfrontasie met dr Verwoerd oor die vloer van die twee huise van die Parlement. Macmillan het daarmee gepoog om die agenda vir die politiek in Afrika te dikteer. Waarmee hy egter nie rekening gehou het nie, was dat dr Verwoerd in staat was om spontaan hierop te reageer. In sy bedankingswoord het Dr Verwoerd mnr Macmillan soos volg geantwoord:


"Die neiging in Afrika dat volke onafhanklik word en, terselfdertyd,die behoefte om aan almal reg te laat geskied, beteken nie net om om regverdig teenoor die swartman van Afrika te wees nie maar ook om regverdig teenoor die witman van Afrika te wees. Ons noem onsself Europeërs maar in werklikheid verteenwoordig ons die blankes van Afrika. [... ] Die witman wat na Afrika gekom het, miskien omhandel te dryf en in sommige gevalle om die Evanglie te bring,het gekom om te bly en veral ons hier in die suidelikste deel van Afrika het so 'n aandeel hier dat dit ons enigste vaderland geword het. Ons het nêrens elders om heen te gaan nie. Ons het 'n land beset wat kaal was. Die Bantoes het ook na hierdie land toe gekom en sekere dele vir hulself beset. Dit is in ooreenstemming met die denkrigting van Afrika om aan hulle daar (maw in hulle gebiede, Red.) die volste regte toe te staan wat ook ons, net soos u,toegee dat alle mense behoort te hê.(Naamlik: vryheid. Red.) Ons glo in die verskaffing van daardie regte vir daardie mense in die volste mate in daardie deel van Suid-Afrika wat hul voorvaders vir hulself gevind en beset het. Maar ons glo ook in ewewigtigheid. Ons glo daarin om presies daardieselfde geleentheid binne die bereik van die witman te laat in die gebiede wat hy beset het, die witman wat dit alles moontlik gemaak het. Ons beskou onsself as 'n deel van die Westerse wêreld,'n ware blanke staat in Afrika, nieteenstaande die moontlikheid daarvan om aan die swartman in ons midde 'n volle toekoms toe te ken. Ons beskou onsself as onontbeerlik vir die blanke wêreld [...] Ons is wit, maar ons is in Afrika."

(Die volledige toespraak van dr Verwoerd kan gelees word in die toespraakbundel, Verwoerd aan die Woord, Afrikaanse Persboekhandel, 1963. Die aangehaalde deel is op bladsy 319. My beklemtoning, red.)



Uit dr HF Verwoerd se antwoord aan Macmillan kan die volgende afleidings gemaak word:

a) Die situasie van blank en nie-blank in Suid-Afrika moet verskillend benader word as die situasie in die res van Afrika.

b) Wat aan die swartman gegun moet word, moet ook aan die witman gegun word.

c) Die Bantoevolke (swartmense) se reg om vry te word in hul eie gebiede word ten volle erken.

d) Die blankes het 'n historiese reg in hul gebied, en daardie reg staan vas.

e) Wat die wêreldpolitiek betref, beskou die blankes in Suid-Afrika hulself as deel van die Westerse beskawing, en 'n onontbeerlike deel daarvan.


Red. 15 Mei 2011. (IKG)

Republiekwording, 31 Mei 1961

Die herdenking van Republiekwording in Suid-Afrika vind plaas op 31 Mei 2011 - presies 50 jaar nadat Suid-Afrika formeel 'n republiek geword het - dws grondwetlik geheel en al vry geword het van Britse seggenskap oor die regering van Suid-Afrika. Daarmee het Brittanje die oorlog wat sy teen die Boererepublieke in 1899 ontketen het finaal op politieke terrein verloor. Die Afrikaners het nie net beheer verkry oor die hele Suid-Afrika nie (1910, 1924, 1948) maar het boonop hulself los regeer en bevry van die Britse kroon in elke opsig van die woord. Binne 5 jaar het die Republiek onder die regering van dr HF Verwoerd bewys dat dit 'n uiters suksesvolle, weerbare en stabiele staat sou word, 'n staat wat volkome lewensvatbaar en invloedryk in Afrika sou wees. Tog hang daar vandag 'n wolk van misleiding oor daardie gebeure, en oor die leiers wat dié grootse prestasie behaal het. Uit 'n historiese oogpunt beskou is daar 'n aantal kwessies wat in hierdie feesdae bespreek en opnuut oorweeg sal word. Ons noem net die volgende:


1. Hoe vergelyk die prestasies van die NP se eerste 12 tot 15 jaar na 1948, met die ANC bewind se resultate sedert 1994?

2. Waarom was daar so 'n hewige aanvegting van die Afrikaners wat in 1948 aan bewind gekom het? Waarom is spesifiek dr HF Verwoerd uitgesonder vir die skandalige veldtog van aanvalle in die pers en van oorsee; en waarom is hy uiteindelik in 1966 vermoor?

3. Waarom het Brittanje die NP-regering probeer druk om in te val by die patroon van rewolusionêre verandering elders in Afrika? (Winde-van-verandering)

4. Wie het die voortou geneem in die VVO om Suid-Afrika se naam deur die modder te sleep en om vyandskap teen die Republiek aan te hits? waarom is dit gedoen?

5. Was die beleid van afsonderlike ontwikkeling of apartheid die werklike rede waarom daar so giftig teen die land te velde getrek is?


6. Waarom was die RSA ten spyte van alles ekonomies welvarend, politiek-gesproke stabiel, en in alle opsigte 'n weerbare staat - in vergelyking met die "wonderwerk"-staat van die ANC-SAKP-COSATU alliansie, wat reeds as 'n mislukte staat bestempel word?


7. Waarom het Westerse lande Republiekwording in 1961 aanvaar, nie diplomatieke betrekkinge verbreek nie, en normaalweg voortgegaan met onderlinge handel en met ander strategiese interaksie?


8. Wanneer en hoe is die internasionale mening negatief teen die Republiek geswaai?


9. Hoe het die Swart volke van Suid-Afrika baat gevind by die voorspoed en ontwikkeling van die RSA tussen 1948 en 1966, en selfs daarna? (Veral in vergelyking met wat in die res van Afrika gebeur het.)


10. Hoe het Republiekwording die Engelssprekendes in Suid-Afrika geraak, en hoe het hulle aangepas daarby?


Hierdie en soortgelyke vrae is almal kwessies wat relevant is in die beoordeling van die gebeure rondom 1960-1961. Die bespreking van die bepaalde era word veelal slegs oor die boeg van die sondes van "apartheid" gegooi - sonder om gebalanseerd bestek op te neem van al die relevante gebeure, politieke faktore en ter saaklike strategiese oorwegings. Republiekwording het Suid-Afrika buite die vaarwaters van internasionale druk geplaas, en het die land opgestoot as 'n reus in Afrika - op elke saakmakende gebied. Dit was uiteraard tot die voordeel van die Swart volke binne die grense van die Republiek, sodat Swartes hier die beste lewenstandaard in Afrika kon behaal, veral tov hul gesondheidsorg, behuising, vervoer, kommunikasie, maatskaplike sorg, onderwys en verdienste in die ekonomie.









IKG Redakteur: 14 Mei 2011 (c)
_________________________________________________________________

Saturday, April 30, 2011

Breyten Breytenbach se siening van Afrikaans

In 'n persdebat in Nederland noem Breyten Breytenbach Afrikaans opnuut 'n "inheemse bastertaal" - siende dit volgens hom 'n kreoolse maaksel is wat ontstaan het in die monde van slawe, bediendes, plaaswerkers en boere. Interessant genoeg noem hy tog die "boere" daarby. Hierdie skewe beeld wat voortdurend deur liberaliste voorgehou word is reeds 'n soort evangelie wat niemand mag betwis nie. Dieselfde beeld word geskep in 'n onlangse publikasie onder redakteurskap van Daniel Hugo met die titel van Halala Afrikaans. Hoewel daar telkens so terloops verwys word na Nederlands as "die penwortel" van die verskillende taalwortels, word die klem geplaas op die invloed van Koi-San, slawetaal, Portugees-Maleis, en selfs Arabies as die formerende kragte waaruit Afrikaans tevoorskyn sou gekom het. Breytenbach sien Afrikaans as " 'n bruin taal, ontspruit aan die stam van Nederlandse dialekte", en ' 'n inheemse bastertaal". (Kyk die berig in Beeld: 30 April 2011, bl 18)
Hierdie verwronge kensketsing van Afrikaans word dikwels ingeklee met die aanhaling van 'n klompie woorde of uitdrukkings wat dan die argument klinkklaar moet "bewys". Die feit is dat alle tale woorde oorneem van ander tale en uit hulle omgewing - so ook Afrikaans tydens sy wordingsjare. Diverse vreemde invloede kan in enige taal uitgeken word, maar die kernvrae is: Wat is die geheelbeeld? Wat was die dominante invloed? Watter kultuur kan in Afrikaans die maklikste en die duidelikste erken word? Wat het die grootste bydrae gemaak tot die woordeskat, idiome en grammatika van Afrikaans? Hoe en waar en deur wie is Afrikaans ontwikkel as 'n skryftaal, 'n wetenskaplike taal, 'n kultuurtaal, 'n taal van die onderwys, 'n taal van godsdiens en gebed, en 'n taal van die digkuns en die letterkunde? Die antwoord op hierdie saakmakende vrae is nie "slawe, bediendes, of plaaswerkers nie". Dit is ook nie die Koi-San, die Hottentotte, of Maleiers wat Afrikaans ontwikkel het tot wat dit vandag is nie - dit is opsigtelik en duidelik. Maar die liberale denkers/skrywers/joernaliste wil Afrikaans graag die baadjie aantrek van "die bastertaal van 'n bastervolk" (en dit is hulle ras-georiënteerde woorde daarvoor!).
Sommige van die kommentators, soos Breytenbach, het miskien in gedagte dat hulle die saak vir Afrikaans sodoende makliker in die buiteland (veral in Nederland) kan verkoop. Die redenasie is: Maak dit kreools, maak dit 'n bastertaal, maak dit minder van 'n wit taal, en die Hollanders sal daarvan hou!
Die strategie is deursigtig en moreel verwerplik. Niemand wen veld deur leuens oor Afrikaans te versprei nie. In toekomstige aflewerings op hierdie werf, sal ons verder kommentaar lewer oor dié kwessie.

(Redakteur, 30 April 2010)
____________________________________________________________

Monday, April 25, 2011

Kultuur van revolusie en oorlog in SA

Die hofsaak waarin die ANC-Jeugleier Julius Malema (28 jaar oud) tereg staan op aanklagte van haatspraak het 'n hele paar ontstellende erkennings en feite aan die lig gebring. Dit is veral interessant dat die retoriek van die ANC se revolusionêre politiek steeds diep gewortel is in sy sosialistiese en kommunistiese verlede. In 'n onderhoud met die BBC het Malema onder andere gesê dat grond (plase) van boere afgeneem moet word sonder kompensasie. Dit is presies die Stalinistiese beleid wat in die Sowjet-Unie van die 1920's en 1930's toegepas is, en wat gelei het tot 'n verwoestende hongersnood in Rusland. 'n Soortgelyke beleid is in die sestigerjare deur Mao Tse Tung toegepas met die resultaat dat miljoene mense van honger omgekom het. Enkele punte om van kennis te neem na aanleiding van die hofsaak van April 2011 is die volgende:



  1. 'n ANC-dokument wat in die loop van ondervraging aangehaal is stel dit dat die ANC steeds verbind is tot rasgedrewe herverdeling van grond - "The ANC places a high premium on the redistribution of land in both URBAN and RURAL areas." (Aanhaling uit 'n ANC-dokument in die hof)



  2. Julius Malema het getuig dat hy reeds op agtjarige leeftyd in 1989 vir die ANC gewerf is, en van toe af intensief in die ANC se kultuur opgevoed is. Hierdie feit is bloot terloops genoem, maar dit verklap die peil van indoktrinasie wat daar in die revolusionêre politiek toegepas word. As kinders reeds van agtjarige ouderdom geleer word om revolusionêre liedjies te sing is dit nie moeilik om in te sien waar die aggressiewe houding van die Malema's vandaan kom nie.



  3. 'n Skrywer wat hom by die ANC skaar, W Seroto, het erken "Revolution is still going on in our country (South Africa)". Die doel van die revolusie is dat "Colonialism of a certain type must be destroyed". Let wel, hierdie verskynsels moet vernietig word, nie hervorm word nie. "Kill the Boer" is natuurlik ook die taal van vernietiging - deel van die voortgaande revolusie.



  4. Gwede Mantashe (Sekretaris-generaal van die ANC) het getuig: "Julius Malema has the right to say what they (sic!) want, because he is youth". Die ANC is dus nie van plan om roekelose retoriek, aanhitsing tot geweld en haatspraak soos dié van Malema te repudieer of teen te staan nie. Dus: die "jeug" kan sê wat hulle wil - al is Malema self reeds 28 jaar oud.



  5. Gwede Mantashe (tans ook die voorsitter van die SA Kommunistiese Party) het in antwoord op 'n vraag gesê dat die doel van die "struggle songs" was "...to inspire and mobilise" - dus, om ANC-vegters te inspireer en te mobiliseer. Hierdie verduideliking is teenstrydig met Malema se verdedigingspan se argument dat hulle die lied sing om die stryd van die verlede te herdenk. Mantashe erken dus in sy getuienis dat die lied (Dubhula iBhunu of Skiet die Boer) die effek het om mense te mobiliseer. Dit gaan om baie meer as blote herdenking. Die lied word ook by alle soorte vergaderings, kongresse en saamtrekke gesing (volgens Malema se getuienis), en nie net by geleenthede waar die "struggle" herdenk word nie.



  6. In ooreenstemming met die punte hierbo, het Malema in 'n stadium met groot klem getuig dat die ANC se struggle songs oorlogsliedere is."If you listen to them they are war songs", het Malema onder kruisverhoor verklaar.



  7. Dit is dus heeltemal redelik om die volgende af te lei: Hierdie oorlogsliedere word gesing in belang van 'n voortgaande revolusie in Suid-Afrika, 'n verklaarde "oorlog" teen sekere vorme van apartheid en kolonialisme van vandag, waarteen ANC lede opgeroep word om te veg en om dood te maak; 'n "oorlog" waarvoor mense gemobiliseer moet word. Dit is wat redelik en logies afgelei moet word. In weerwil van al die ontkennings en vredespraatjies is dit die kern van die saak wat tydens die hofsaak aan die lig gebring is. (Daar is voortdurend deur ANC-lede in die hof ontken dat dit die doel en oogmerke sou wees, maar die ware oogmekre van dié revolusionêre beweging het in dieselfde hofsaak nietemin spontaan tot uiting gekom - deur die bepaalde uitsprake soos hierbo aangehaal. Die vredespraatjies word beslis weerspreek deur gepubliseerde stukke van die ANC, en deur die optrede of uitsprake van Julius Malema self. Soos hy inderdaad voor die BBC verklaar het: grond moet van boere weggeneem word SONDER KOMPENSASIE. Duideliker as dit kan dit nie gestel word nie.)



Redaksie, 4/2011.



_________________________________________________________________

Thursday, April 7, 2011

Internasionale voorleggings oor plaasaanvalle in Suid-Afrika

Verskeie aksies is tans aan die gang om plaasaanvalle in Suid-Afrika op internasionale forums bekend te stel en 'n beroep te doen op die internasionale gemeenskap in hierdie verband. Eerstens het mnr Paul Kruger namens die Verkennersbeweging 'n memorandum aan die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland oorhandig. Hy gebruik ook die geleentheid om verskillende organisasies in Europa in te lig oor die moorde, wat in die voorleggeings as 'n "volksmoord" (Genocide) bestempel word. Laasgenoemde term is 'n bepaalde misdaadkategorie wat die aandag van die internasionale regsgemeenskap geniet en wat etniese geweld in verskillende wêrelddele aandui.

Verder het 'n bestuurder van Afriforum, mnr Ernst Roets, na Kenia gereis om 'n konferensie van die VVO aldaar by te woon en die kongresgangers in te lig in verband met die gruwelike moorde op boere in Suid-Afrika. Hy het ook die hofsaak wat Afriforum aanhangig gemaak het teen Julius Malema behandel. Hierdie hofsaak handel oor 'n klag teen Julius Malema in verband met die sing van liedjies van aanhitsing tot geweld, soos "Kill the Boer, Kill the Farmer" en soortgelyke slagspreke wat deur die ANC organisasies landswyd gebruik word. In die hofsaak word plaasaanvalle in verband gebring met die agitasie en aanhitsing deur ANC-leiers. Die ANC tree amptelik in die hof op ter verdediging van Julius Malema, en vereenselwig hulle dus as sodanig met die verregaande haatspraak teen die Boere wat in die ANC-liedere voorkom.

Teen hierdie agtergrond is daar voortdurend nuusberigte in Suid-Afrika van verdere aanvalle op plase en word daar weekliks gerapporteer hoe boere op plase en kleinhoewes aangeval, wreed gemartel en vermoor word. Die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) hou rekord van sulke bevestigde gevalle en reik van tyd tot tyd persverklarings daaroor uit. Die TLU-SA se regspan ondersteun tans Afriforum se hofaansoek teen Julius Malema en die ANC.

Wednesday, April 6, 2011

Jan van Riebeeck se Onderneming van 1654


Jan van Riebeeck skryf in 1654 in sy dagregister die belofte neer om "desen dagh, den 6en April wesende, van Godes eer met dancksegginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvende danck ende bededagh in te stellen, ten eijnde daer bij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen noijt vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden moge worden." Dit is duidelik dat Van Riebeeck en sy geselskap die historiese betekenis van 6 April 1652 goed begryp het; en daar word soms ook na hierdie onderneming as Van Riebeeck se Gelofte verwys. 6 April word dus toegewy aan die Here as 'n spesiale dankdag en 'n biddag. Veel meer hoef nie gesê te word oor wat dit dan eintlik vir ons behoort te beteken nie.

Tuesday, April 5, 2011

Van Riebeeckdag 1652 en 2011

Dit is een van die treffende aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis dat die koms van Jan van Riebeeck en sy geselskap na die Kaap in 1652 'n kenbare datumlyn daargestel het: ons kan praat van die era voor Van Riebeeck en die era na sy koms. Afrikaners het dié dag altyd beskou as 'n aanvangsdatum van die moderne geskiedenis van ons land, en die groot feesvieringe wat in 1952 gehou is, het reg laat geskied aan hierdie beskouing. Die jaar 2002 het egter verbygegaan sonder dat daar 'n volkswye 350-jarige fees gevier is. 'n Mens kan dus met reg spekuleer hoe die jaar 2052 se fees gaan lyk. Die gebeure word al meer gerelativeer as 'n betekenislose aspek binne die Nuwe Suid-Afrikaanse ideologiese visie waarin die Blankes se bydrae eerder aan onderdrukking gekoppel word as aan ontwikkeling. Tog sou daar geen moderne Suid-Afrika gewees het, sonder daardie vroegste volksplanting aan die Kaap nie.
Die benaming Stigtingsdag is sekerlik gepas vir hierdie gedenkwaardige dag, maar die dag sal altyd verbind bly aan die imponerende persoonlikheid van Johan Anthonisz van Riebeeck (21 April 1619 - 18 Januarie 1677)en die opdrag wat hy van die VOC ontvang het om 'n logistieke pos te stig en later 'n nedersetting en veilige vesting daar te stel. Vandaar die ontstaan van die Kasteel in Kaapstad - 'n duidelike manifestasie van die Nederlanders se voorneme om hul permanent hier te vestig en hulself te verdedig teen aanvalle.
Professor PG Nel skryf in die Afrikaanse Kultuuralmanak die volgende: "Die oogmerke van die VOC was bloot prakties en ekonomies van aard, en die gedagte aan 'n volksplanting word nie by hulle aangetref nie. Tog sou hierdie daad oorgaan tot die vestiging van 'n nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: 'n volk met 'n eie taal, beginsels, lewensbeskouing, filosofie en lewenswyse. Die immigrante moes hulle aanpas by gans ander omstandighede as dié waaraan hulle gewoond was. Vanuit die ontwikkelde Nederland het hulle gekom na 'n onontwikkelde, ongetemde land. In hulle stryd teen die elemente sou die bodemgesteldheid beslissend inwerk op die vorming van 'n groep mense met 'n eie aard en die geboorte van 'n nuwe volk onvermydelik maak." (Bladsy 107)
In die nuwe situasie wat die Afrikanervolk vandag beleef, behoort hierdie datum eintlik te groei in betekenis: dit is immers die begin van ons geskiedenis in Afrika. Ons wortels lê klaarblyklik diep in die Nederland van die Goue Eeu, en is later versterk deur Duitse immigrante en die koms van die Franse Hugenote.

Wat gaan hier gebeur?

Ons gesels hier van tyd tot tyd oor 'n verskeidenheid van temas wat almal op die een of ander manier verband hou met vraagstukke oor die geskiedenis of kwessies rondom kultuur. Dit is 'n wye agenda, maar dit is uiteraard 'n Afrikaanse werf (hoofsaaklik) en daarom sal die gesprekke of insette wel verband hou met Afrikaners se unieke probleme en uitdagings. Ons het immers 'n breë gemeenskaplikheid in ons Westerse Christelike beskawing. Lesers wat hoegenaamd in geskiedkundige vraagstukke en in kultuur as sulks belangstel sal hier tuis voel. Ons sal mettertyd ook skakels na ander werwe wil insluit waar soortgelyke gesprekke plaasvind.

ONDER KONSTRUKSIE

Hierdie blog is eksperimenteel en steeds onder konstruksie; hou die ruimte dop indien die onderwerp jou interesseer; ons skryf later meer.