Ek bly 'n groot ondersteuner van waterverf-kuns. Dit bied 'n gulde moontlikheid om spontaan te werk, en om verrassende effekte te bereik. Hierdie landskap is een van die voorbeelde daarvan. In teenstelling hiermee kan daar met waterverf baie presiese, gedetailleerde en goed beplande beelde geskilder word. In hierdie landskap kan mens sien hoe kleure in mekaar gevloei het.
INSTITUUT VIR KULTUUR EN GESKIEDENIS
Gesprek oor aktuele sake, historiese gebeure, taal en kultuur
Thursday, April 27, 2023
Wednesday, September 12, 2018
Publikasies van die IKG
Thursday, April 12, 2018
NUWE e-PUBLIKASIES 2018
NUWE PROJEKTE BY DIE INSTITUUT VIR KULTUUR EN GESKIEDENIS
Regs bo verskyn 'n beeld van die e-tydskrif waarmee die IKG hierdie jaar weggespring het. Die tydskrif vaar onder die naam Filosofie & Politiek, wat ons soms afkort as FEP.
Hieronder (regs onder) is 'n indruk van die nuusbrief met die naam OORSIG en REPLIEK.
Die reaksie op albei hierdie e-publikasies was tot dusver baie goed; ons benodig egter baie groter deelname onder Afrikaanse lesers landwyd en oorsee. Oorsig & Repliek word gratis versprei; terwyl Filosofie & Politiek 'n inskrywingsfooi vra. ________________________________
Doen gerus verder navraag by redakteur48 aapstert gmail.com.
Wednesday, January 6, 2016
Nuwe gedagtes vir 2016
Thursday, May 3, 2012
100 Jaar na De Wildt - Konferensie in Pretoria
Die program bestaan uit vier referate wat elkeen gevolg word deur vrae en besprekings. daar word onder andere gefokus op die optrede van generaal JBM Hertzog in die jare 1912-1914; die agtergrond tot die Rebellie van 1914; die ontwaking van die Afrikaans-nasionale strewe; en die skrywers en denkers wat in daardie era 'n belangrike rol gespeel het. Onder andere sal daar ook besin word oor die Afrikaners se Calvinistiese lewensbeskouing in die volkslewe, en kultuurprojekte soos die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die taalstryd en die onderwys was onder die nuwe arenas waarin die volkstryd voortgesit is tot groter selfstandigheid en vryheid na die Tweede Vryheidsoorlog.
Registrasie begin om 08:00 vir 08:30. Die Afrikanersentrum is bereikbaar vanuit Paul Krugerstraat.
'n Inskrywingsfooi van R150 is betaalbaar en dit sluit 'n ligte middagete in. - Redaksie.
_______________________________________________________________________
Die IKG se Nuusbrief 2012
Thursday, September 1, 2011
6 September 1966 - Vrae wat bly
Senior ministers en weermag-offisiere dra die kis van dr HF Verwoerd op 10 September 1966 in Pretoria. |
- Dit is duidelik dat daar die een of ander voorkennis of antisipasie was van die aanslag op dr Verwoerd se lewe. Eerstens is daar die getuienis dat die dood van dr Verwoerd ter sprake gekom het by die Kaapse hawe waar daar op 'n Griekse skip (die Eleni) navraag gedoen is oor die dood van dr Verwoerd - dit was op 3 September, drie dae voor die moord! Die sluipmoordenaar (Dimitrio Tsafendakis) het oor 'n tydperk van 40 dae talle besoeke afgelê by hierdie skip en hy het daar wapens probeer bekom. Daar was ook 'n soortgelyke berig van 'n navraag oor die aanval in Brittanje. Tweedens was daar die uitgawe van die Amerikaanse tydskrif TIME, 'n week voor die aanslag, waarin 'n krasse tekening van dr Verwoerd prominent op die voorblad geplaas is en daar gesuggereer is dat dr Verwoerd se party verdeeld is en sy vyande aktief is binne die Nasionale Party. Dan was daar derdens 'n uitgebreide voorbladberig in 'n Sondagblad, ook 'n week voor die sluipmoord, wat berig het dat dr Verwoerd se leierskap bevraagteken word en dat daar gedink word daaraan om dr Verwoerd as leier van die NP te vervang met iemand van buite die parlement en van buite die politieke arena. Dr Anton Rupert se naam word vervolgens pertinent genoem as die moontlike opvolger vir dr Verwoerd. Die berig lui op 'n onheilspellende toon dat "die messe uit is in die Nasionale Party" en dat dit gemik was op dr Verwoerd se leierskap. (Dr Verwoerd is met vier messteke om die lewe gebring in sy bank in die Volksraad.)
- In sy boek A Very Strange Society, gebaseer op 'n uitgebreide toer in Suid-Afrika, juis in die maande wat die sluipmoord voorafgegaan het, word daar berig oor die skrywer (Alan Drury) se vertroulike gesprekke met prominente Kaapse sakelui, belangrike joernaliste en akademici wat gewag gemaak het van groot veranderinge in die beleid van die NP wat binne enkele jare sou kom. Hulle het duidelik daarop gesinspeel dat dr Verwoerd op pad uit was. Wat het hierdie belangrike mense geweet? Waarom was hulle so seker dat daar sogenaamde "groot veranderinge" in beleid gaan kom? Op welke basis kon hulle dit weet, as dr Verwoerd op die kruin van sy loopbaan gestaan het, inderdaad blakend gesond was en wye vertroue geniet het in sy eie party, en toenemend ook steun ontvang het van Engelssprekendes?
- Een van die tergende vrae, wat dikwels na vore kom is: Wie kon voordeel getrek het uit die sluipmoord? In enige kriminele ondersoek is dit 'n standaardvraag wat speurders op die spoor van die skuldiges kan plaas. In hierdie verband is dit duidelik dat twee persone direk voordeel getrek het uit die gebeure: Mnr John Vorster ('n relatiewe junior minister in dr Verwoerd se kabinet) het dr Verwoerd opgevolg as Eerste Minister, en generaal HJ van den Bergh (o.a. verantwoordelik vir dr Verwoerd se veiligheid, vanuit sy hoedanigheid as Hoof van die Veiligheidspolisie) het as mnr John Vorster se vertroueling in 'n ongekende magsposisie ingeskuif. In 1969 is hy deur mnr Vorster aangestel as die Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Beide hierdie figure was in die veertigerjare lede van die Ossewabrandwag, en mnr Vorster het eers in 1953 by die Nasionale Party aangesluit. Die Buro (BOSS) het onmiddellik in sy werksaamhede aandag geskenk aan mnr Vorster se politieke opponente in Afrikanergeledere. Daar is natuurlik ook andere wat voordeel getrek het - baie spesifiek ook die groep "Kaapse sakelui, joernaliste en akademici" waarna Alan Drury in sy boek verwys het. Hulle was na die sluipmoord in staat om die NP se beleid in 'n liberale en linkse rigting te stoot; presies volgens die oogmerke en verwagtings wat hulle voor die sluipmoord uitgespreek het.
- 'n Belangrike aspek waaroor daar al meer vrae gevra word is waarom die ondersoek na die sluipmoord so vinnig afgehandel is - dit is binne twee maande voltooi. Hierdie haas en oppervlakkigheid van die ondersoek (uitgevoer deur 'n eenman-kommisie) staan in kontras met die Warren-kommissie se ondersoek na die sluipmoord op president John F Kennedy. In Kennedy se geval is 'n enorme span ondersoekers gebruik en het die verslag (wat duisende bladsy beslaan het) eers 'n jaar later verskyn. In die geval van die ondersoek na die aanslag op dr Verwoerd is 'n skamele verslag van dertig bladsye in die Staatskoerant gepubliseer. Aan die moontlike nalatigheid van die SA Polisie word daar slegs enkele bladsye gewy; terwyl die fokus verskuif word na die nalatigheid van junior amptenare in die Departement van Binnelandse Sake.
- In enige staat met selfrespek, of in 'n regerende party met selfrespek, sou die verantwoordelike minister of ministers (in hierdie geval mnr Vorster van Justisie , en die minister van Binnelandse Sake) moes bedank het; asook die hoof van die veiligheidspolisie, in hierdie geval generaal Hendrik van den Bergh. In plaas van afgedank te word het hierdie twee here die magtigste manne in die regering geword.
- Uit 'n politieke hoek beskou is dit vandag duidelik dat mnr John Vorster spoedig nadat hy as leier verkies is, die Nasionale Party se beleid in 'n liberale rigting begin stoot het - in vele opsigte in stryd met die standpunte en beleid van dr HF Verwoerd. Mens dink in hierdie verband onmiddellik aan veranderings tov die sportbeleid van die NP, die hantering van die Suidwes-Afrika vraagstuk en mnr Vorster se optrede jeens Rhodesië en die Portugese gebiede, naamlik Mosambiek en Angola. Mnr Vorster het so sterk weggeswaai van die Verwoerd-denkbeeld dat dit tot 'n ernstige skeuring in die NP gelei het, binne slegs drie jaar nadat hy die leier van die NP geword het. Die Erika Theron Kommissie ivm die posisie van die Kleurlinge is spoedig daarna aangewys en daaruit het die hele proses van grondwetlike hervorming in die RSA ontstaan - in ooreenstemming met die wense van die sakelui en joernaliste met wie Alan Drury voor die sluipmoord vertroulike gesprekke gevoer het.
Friday, June 3, 2011
Dr HF Verwoerd en die Republiek van 1961
Dit was opvallend dat daar by verskeie geleenthede die afgelope week aandag gegee is aan Republiekwording in 1961, al was daar nie op hierdie 50ste herdenkingsdag 'n amptelike staatsherdenking nie; die ANC-bewind het die oorsprong van die onafhanklike, selfstandige Republiek en ons vrywording van alle Britse bande in geheel geïgnoreer. maar Afrikaners het onthou. Die ANC beskou geen prestasie van die Republiek voor 1994 as iets wat geldig of waardevol is nie - die publiek se geheue moet vassteek by hulle weergawe van die geskiedenis; 1994 is dus Jaar Nul vir die ANC. Maar vir Afrikaners is die gebeure van 1961 van groot betekenis; en daarmee saam die merkwaardige leierskap van dr Hendrik French Verwoerd wat die finale fase van Republiekwording so meesterlik gelei het. In al sy toesprake destyds het hy uit sy pad gegaan om erkenning te verleen aan sy voorgangers, maar mettertyd is na hom verwys as "die argitek van die Republiek". Dit kon ook nie anders nie; sy naam sal altyd aan die ingrypende geskiedenis van die jare sestig en die vroeë prestasies van die Republiek verbind word. Daar was oor die afgelope weke hulde gebring op verskeie maniere aan die nagedagtenis van dr Verwoerd. 'n Borsbeeld is in 'n storm van kontroverse en polemiek van Meyerton na Pretoria gebring, dit is in Kleinfontein onthul op 'n spesiale geleentheid; die GHA het in sy lyfblad Tolbos verskeie artikels geplaas oor die rol van dr Verwoerd tydens Republiekwording, en in die Willie Marais-Afrikanersentrum in Pretoria is 'n gedenkaand gehou waartydens daar eweneens hulde aan dr Verwoerd gebring is. Dit is duidelik dat die figuur van dr Verwoerd, soos dié van president SJP Kruger, nie gaan verdwyn uit die volkslewe soos baie gewens het dit sou gebeur nie. Al het die ANC-SAKP bewind soveel name reeds verander om sy nagedagtenis uit te wis, en al is hoeveel standbeelde en borsbeelde al verwyder, kan die volksgeheue nie so maklik verknoei word nie. In die huidige era word dit al hoe duideliker dat die stabiliteit, orde en ekonomiese groei wat destyds in die onmiddellike jare na 1961 in Suid-Afrika gevolg het in skerp kontras staan met die rekord van die ANC-SAKP bewind na hul oorname in 1994. Die geweld in Natal tussen strydende groepe het byvoorbeeld nog vir drie tot vier jaar na 1994 voortgeduur; en daarby het die ANC-SAKP 'n kultuur van stakings, wanbesteding van staatsfondse, korrupsie en nepotisme gevestig - 'n toedrag van sake wat steeds voortduur. 'n Prominente skrywer, wat nie apartheid ondersteun nie, het onlangs opgemerk: "Die onderdrukking en tirannie (sic!) van die vorige era is vervang met 'n tirannie van geweld in die Nuwe Suid-Afrika". Soos vir daardie skrywer, word die apartheidsjare deur baie mense gesien as 'n tydvak van onderdrukking - tog was die Verwoerdvisie een waarin daar volle staatkundige, politieke en ekonomiese vryheid voorsien sou word aan elke volk in Suid-Afrika. Verskeie van hierdie volke het inderdaad in die dekade sewentig onafhanklik geword of volle selfbestuur verkry. Ontwikkelingskorporasies is in elke staat gevestig, en hierdie liggame was besig om sinvol te werk aan langtermyn infrastruktuur. Universiteite en skole is op etnies-kulturele grondslag gevestig en uitgebou. Nou is daardie geleenthede van alle volke van Suid-Afrika ontneem, en in die plek daarvan beleef Suid-Afrika 'n vorm van meerderheidsdiktatuur, lewe die burgers van die land onder die tirannie van misdaad en geweld - soos die skrywer waarna ek verwys het dit gestel het. In die plek van vrede, orde, stabiliteit en sinvolle etniese ontwikkeling sien die nuwe RSA ernstige verval in dienslewering, die wye misbruik van mag, en onbeholpenheid in die gewone staatsadministrasie. Die regering van Suid-Afrika begin al meer wegsink in die Afrika-patroon: deur eie bevoordeling, deur die skandelike verryking van regeringslui en hulle vriende, en gaandeweg deur die vernietiging van beskaafde standaarde. Dit alles bring die herinnering aan die Verwoerd-era weer op die voorgrond, omdat daardie era 'n kontrasterende voorbeeld bied van hoe uitnemende landsregering behoort te lyk.
________________________________________
(Plasing: 4 Junie 2011. Deur 'n Medewerker.)
Sunday, May 29, 2011
In Memoriam: Dr JJ Steenkamp 1946-2011
Omdat sy denke so bewapen was, ook deur 'n intense studie van oorspronklike skrywers en primêre bronne, het dr JJ Steenkamp in die kringe van die Hervormde Kerk van Afrika talle beredeneerde lesings, preke en geskrifte gelewer wat Afrikaners tot besinning gebring het oor die tendense van die tyd, oor die gevare van die politieke omwentelings in Suid-Afrika en die aanslae op die Kerk en sy belydenis. Daarin kon lesers of luisteraars altyd 'n duidelike reformatoriese stem verneem - ook wanneer dit gegaan het oor die toepassing van beginsels in die alledaagse lewe, hetsy wat politieke of kulturele sake aanbetref. Hy het die aanslae van buite op die Afrikaanse volkslewe bestudeer, die aanvalle op die Afrikaners se kerke en die aanslae op die geloofslewe self - en kon daaroor gesaghebbend praat. Min predikante doen hierdie soort moeite sedert die nuwe liberale denke in die sestigerjare in die Afrikaanse kultuurlewe populêr begin raak het en deur al hoe meer teoloë nagevolg is.
Dit is dan geen wonder nie, dat dr JJ Steenkamp in die jongste verwikkelinge in die Hervormde Kerk 'n leiersrol sou speel nie. Juis in hierdie opsig laat hy 'n onmiddellike leemte - te meer so, omdat "Stony" ook die goeie diplomaat was, die gebalanseerde en kalm denker by wie almal om raad aangeklop het. Met sy heengeen moet ons afskeid neem van 'n gewaardeerde vriend, 'n stoere en onwrikbare Afrikaner, en van 'n geloofsmens wat nie teruggedeins het vir die moeilikhede van ons tyd nie. Hy het moed gehad. Hy was 'n leier. Ons sal hom altyd mis.
______________________________________________________________
(Bydrae deur 'n medewerker) 29 Mei 2011
Saturday, May 14, 2011
Terugflits 1960: Harold Macmillan en die winde van verandering in Afrika
"The most striking of all the impressions I have formed since I left London a month ago is of the strength of this African National consciousness. The wind of change is blowing throughout the continent. Whether we like it or not, this growth of consciousness is a political fact. We must all accept it as a fact. Our national policies must take account of it. This means, I would judge, that we must come to terms with it. I sincerely believe that of we cannot do so we may imperil the precarious balance between East and West on which the peace of the world depends."
Wanneer mens hierdie oproep van Macmillan noukeurig lees, val 'n hele paar dinge mens op: (a) Dr Verwoerd se regering word terstond vermaan om die veranderinge in Afrika "as 'n feit te aanvaar" - met ander woorde, as iets waarmee daar nie geredeneer kan word nie; iets waaroor daar nie debat kan wees nie. Dit is voorts 'n "politieke feit" - maw dit gaan oor jou politiek. (b) Hy vertolk hierdie feit so dat dit jou dwing om jou daarmee te versoen, om tot 'n ooreenkoms te kom met Afrika-nasionalisme. (c) Macmillan dreig die SA regering dat as hulle nie sou inval by die veranderings nie, dat hulle dan die wankelende balans tussen die Ooste en die Weste in gevaar sou stel. Hoe mens dit ook al beskou was dit in wese 'n konfrontasie met dr Verwoerd oor die vloer van die twee huise van die Parlement. Macmillan het daarmee gepoog om die agenda vir die politiek in Afrika te dikteer. Waarmee hy egter nie rekening gehou het nie, was dat dr Verwoerd in staat was om spontaan hierop te reageer. In sy bedankingswoord het Dr Verwoerd mnr Macmillan soos volg geantwoord:
"Die neiging in Afrika dat volke onafhanklik word en, terselfdertyd,die behoefte om aan almal reg te laat geskied, beteken nie net om om regverdig teenoor die swartman van Afrika te wees nie maar ook om regverdig teenoor die witman van Afrika te wees. Ons noem onsself Europeërs maar in werklikheid verteenwoordig ons die blankes van Afrika. [... ] Die witman wat na Afrika gekom het, miskien omhandel te dryf en in sommige gevalle om die Evanglie te bring,het gekom om te bly en veral ons hier in die suidelikste deel van Afrika het so 'n aandeel hier dat dit ons enigste vaderland geword het. Ons het nêrens elders om heen te gaan nie. Ons het 'n land beset wat kaal was. Die Bantoes het ook na hierdie land toe gekom en sekere dele vir hulself beset. Dit is in ooreenstemming met die denkrigting van Afrika om aan hulle daar (maw in hulle gebiede, Red.) die volste regte toe te staan wat ook ons, net soos u,toegee dat alle mense behoort te hê.(Naamlik: vryheid. Red.) Ons glo in die verskaffing van daardie regte vir daardie mense in die volste mate in daardie deel van Suid-Afrika wat hul voorvaders vir hulself gevind en beset het. Maar ons glo ook in ewewigtigheid. Ons glo daarin om presies daardieselfde geleentheid binne die bereik van die witman te laat in die gebiede wat hy beset het, die witman wat dit alles moontlik gemaak het. Ons beskou onsself as 'n deel van die Westerse wêreld,'n ware blanke staat in Afrika, nieteenstaande die moontlikheid daarvan om aan die swartman in ons midde 'n volle toekoms toe te ken. Ons beskou onsself as onontbeerlik vir die blanke wêreld [...] Ons is wit, maar ons is in Afrika."
(Die volledige toespraak van dr Verwoerd kan gelees word in die toespraakbundel, Verwoerd aan die Woord, Afrikaanse Persboekhandel, 1963. Die aangehaalde deel is op bladsy 319. My beklemtoning, red.)Uit dr HF Verwoerd se antwoord aan Macmillan kan die volgende afleidings gemaak word:
a) Die situasie van blank en nie-blank in Suid-Afrika moet verskillend benader word as die situasie in die res van Afrika.
b) Wat aan die swartman gegun moet word, moet ook aan die witman gegun word.
c) Die Bantoevolke (swartmense) se reg om vry te word in hul eie gebiede word ten volle erken.
d) Die blankes het 'n historiese reg in hul gebied, en daardie reg staan vas.
e) Wat die wêreldpolitiek betref, beskou die blankes in Suid-Afrika hulself as deel van die Westerse beskawing, en 'n onontbeerlike deel daarvan.Red. 15 Mei 2011. (IKG)