|
Senior ministers en weermag-offisiere dra die kis van dr HF Verwoerd op 10 September 1966 in Pretoria. |
Die verraderlike en noodlottige aanslag op die lewe van dr HF Verwoerd, die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, op 6 September 1966 bly steeds in die herinnering van die Afrikanervolk. Te oordeel aan die publikasie van boeke, briewe en radiogesprekke is dit duidelik dat die vrae rondom die gebeure van Augustus en September 1966 aktueel bly en in vele opsigte nog onbeantwoord is. Die implikasies van die gebeure word ook verskillend vertolk. In 'n onlangse film, "Roepman", word op onmiskenbare wyse daarop gesinspeel dat die dood van dr Verwoerd 'n soort emosionele verlossing vir die mense van Suid-Afrika beteken het. In 'n boek wat heelwat sensasie verwek het (Die Lang Generaal) word weer gesuggereer dat dr Hendrik van den Bergh sy moordspan gebruik het om dr Verwoerd uit die weg te ruim omdat dr Verwoerd na bewering besluit het om sy beleid te versag en 'n ander koers daarmee in te slaan. Oor Radio Pretoria is daar 'n gebalanseerde aktualiteitsprogram aangebied waaraan verskeie kenners deelgeneem het en kommentaar gelewer het oor die lewe van dr Verwoerd, oor sy betekenis vir die Afrikanervolk en die moontlike redes en motivering agter die sluipmoord op hierdie onkreukbare en standvastige volksleier. Van die belangrikste kwessies rondom die sluipmoord is die volgende:
Dit is duidelik dat daar die een of ander voorkennis of antisipasie was van die aanslag op dr Verwoerd se lewe. Eerstens is daar die getuienis dat die dood van dr Verwoerd ter sprake gekom het by die Kaapse hawe waar daar op 'n Griekse skip (die Eleni) navraag gedoen is oor die dood van dr Verwoerd - dit was op 3 September, drie dae voor die moord! Die sluipmoordenaar (Dimitrio Tsafendakis) het oor 'n tydperk van 40 dae talle besoeke afgelê by hierdie skip en hy het daar wapens probeer bekom. Daar was ook 'n soortgelyke berig van 'n navraag oor die aanval in Brittanje. Tweedens was daar die uitgawe van die Amerikaanse tydskrif TIME, 'n week voor die aanslag, waarin 'n krasse tekening van dr Verwoerd prominent op die voorblad geplaas is en daar gesuggereer is dat dr Verwoerd se party verdeeld is en sy vyande aktief is binne die Nasionale Party. Dan was daar derdens 'n uitgebreide voorbladberig in 'n Sondagblad, ook 'n week voor die sluipmoord, wat berig het dat dr Verwoerd se leierskap bevraagteken word en dat daar gedink word daaraan om dr Verwoerd as leier van die NP te vervang met iemand van buite die parlement en van buite die politieke arena. Dr Anton Rupert se naam word vervolgens pertinent genoem as die moontlike opvolger vir dr Verwoerd. Die berig lui op 'n onheilspellende toon dat "die messe uit is in die Nasionale Party" en dat dit gemik was op dr Verwoerd se leierskap. (Dr Verwoerd is met vier messteke om die lewe gebring in sy bank in die Volksraad.)
In sy boek A Very Strange Society, gebaseer op 'n uitgebreide toer in Suid-Afrika, juis in die maande wat die sluipmoord voorafgegaan het, word daar berig oor die skrywer (Alan Drury) se vertroulike gesprekke met prominente Kaapse sakelui, belangrike joernaliste en akademici wat gewag gemaak het van groot veranderinge in die beleid van die NP wat binne enkele jare sou kom. Hulle het duidelik daarop gesinspeel dat dr Verwoerd op pad uit was. Wat het hierdie belangrike mense geweet? Waarom was hulle so seker dat daar sogenaamde "groot veranderinge" in beleid gaan kom? Op welke basis kon hulle dit weet, as dr Verwoerd op die kruin van sy loopbaan gestaan het, inderdaad blakend gesond was en wye vertroue geniet het in sy eie party, en toenemend ook steun ontvang het van Engelssprekendes?
Een van die tergende vrae, wat dikwels na vore kom is: Wie kon voordeel getrek het uit die sluipmoord? In enige kriminele ondersoek is dit 'n standaardvraag wat speurders op die spoor van die skuldiges kan plaas. In hierdie verband is dit duidelik dat twee persone direk voordeel getrek het uit die gebeure: Mnr John Vorster ('n relatiewe junior minister in dr Verwoerd se kabinet) het dr Verwoerd opgevolg as Eerste Minister, en generaal HJ van den Bergh (o.a. verantwoordelik vir dr Verwoerd se veiligheid, vanuit sy hoedanigheid as Hoof van die Veiligheidspolisie) het as mnr John Vorster se vertroueling in 'n ongekende magsposisie ingeskuif. In 1969 is hy deur mnr Vorster aangestel as die Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Beide hierdie figure was in die veertigerjare lede van die Ossewabrandwag, en mnr Vorster het eers in 1953 by die Nasionale Party aangesluit. Die Buro (BOSS) het onmiddellik in sy werksaamhede aandag geskenk aan mnr Vorster se politieke opponente in Afrikanergeledere. Daar is natuurlik ook andere wat voordeel getrek het - baie spesifiek ook die groep "Kaapse sakelui, joernaliste en akademici" waarna Alan Drury in sy boek verwys het. Hulle was na die sluipmoord in staat om die NP se beleid in 'n liberale en linkse rigting te stoot; presies volgens die oogmerke en verwagtings wat hulle voor die sluipmoord uitgespreek het.
'n Belangrike aspek waaroor daar al meer vrae gevra word is waarom die ondersoek na die sluipmoord so vinnig afgehandel is - dit is binne twee maande voltooi. Hierdie haas en oppervlakkigheid van die ondersoek (uitgevoer deur 'n eenman-kommisie) staan in kontras met die Warren-kommissie se ondersoek na die sluipmoord op president John F Kennedy. In Kennedy se geval is 'n enorme span ondersoekers gebruik en het die verslag (wat duisende bladsy beslaan het) eers 'n jaar later verskyn. In die geval van die ondersoek na die aanslag op dr Verwoerd is 'n skamele verslag van dertig bladsye in die Staatskoerant gepubliseer. Aan die moontlike nalatigheid van die SA Polisie word daar slegs enkele bladsye gewy; terwyl die fokus verskuif word na die nalatigheid van junior amptenare in die Departement van Binnelandse Sake.
In enige staat met selfrespek, of in 'n regerende party met selfrespek, sou die verantwoordelike minister of ministers (in hierdie geval mnr Vorster van Justisie , en die minister van Binnelandse Sake) moes bedank het; asook die hoof van die veiligheidspolisie, in hierdie geval generaal Hendrik van den Bergh. In plaas van afgedank te word het hierdie twee here die magtigste manne in die regering geword.
Uit 'n politieke hoek beskou is dit vandag duidelik dat mnr John Vorster spoedig nadat hy as leier verkies is, die Nasionale Party se beleid in 'n liberale rigting begin stoot het - in vele opsigte in stryd met die standpunte en beleid van dr HF Verwoerd. Mens dink in hierdie verband onmiddellik aan veranderings tov die sportbeleid van die NP, die hantering van die Suidwes-Afrika vraagstuk en mnr Vorster se optrede jeens Rhodesië en die Portugese gebiede, naamlik Mosambiek en Angola. Mnr Vorster het so sterk weggeswaai van die Verwoerd-denkbeeld dat dit tot 'n ernstige skeuring in die NP gelei het, binne slegs drie jaar nadat hy die leier van die NP geword het. Die Erika Theron Kommissie ivm die posisie van die Kleurlinge is spoedig daarna aangewys en daaruit het die hele proses van grondwetlike hervorming in die RSA ontstaan - in ooreenstemming met die wense van die sakelui en joernaliste met wie Alan Drury voor die sluipmoord vertroulike gesprekke gevoer het.
Die Staatsbegrafnis vir dr HF Verwoerd is gehou op 10 September 1966. 'n Erediens is gehou in die Amfiteater van die Uniegeboue in Pretoria, waarna die kis op 'n kanonwa gelaai is en na die Helde-akker in Kerkstraat vervoer is. Duisende mense het kangs die strate saamgedrom vir 'n stille en laaste eerbetoon.
ReplyDelete