Saturday, April 30, 2011

Breyten Breytenbach se siening van Afrikaans

In 'n persdebat in Nederland noem Breyten Breytenbach Afrikaans opnuut 'n "inheemse bastertaal" - siende dit volgens hom 'n kreoolse maaksel is wat ontstaan het in die monde van slawe, bediendes, plaaswerkers en boere. Interessant genoeg noem hy tog die "boere" daarby. Hierdie skewe beeld wat voortdurend deur liberaliste voorgehou word is reeds 'n soort evangelie wat niemand mag betwis nie. Dieselfde beeld word geskep in 'n onlangse publikasie onder redakteurskap van Daniel Hugo met die titel van Halala Afrikaans. Hoewel daar telkens so terloops verwys word na Nederlands as "die penwortel" van die verskillende taalwortels, word die klem geplaas op die invloed van Koi-San, slawetaal, Portugees-Maleis, en selfs Arabies as die formerende kragte waaruit Afrikaans tevoorskyn sou gekom het. Breytenbach sien Afrikaans as " 'n bruin taal, ontspruit aan die stam van Nederlandse dialekte", en ' 'n inheemse bastertaal". (Kyk die berig in Beeld: 30 April 2011, bl 18)
Hierdie verwronge kensketsing van Afrikaans word dikwels ingeklee met die aanhaling van 'n klompie woorde of uitdrukkings wat dan die argument klinkklaar moet "bewys". Die feit is dat alle tale woorde oorneem van ander tale en uit hulle omgewing - so ook Afrikaans tydens sy wordingsjare. Diverse vreemde invloede kan in enige taal uitgeken word, maar die kernvrae is: Wat is die geheelbeeld? Wat was die dominante invloed? Watter kultuur kan in Afrikaans die maklikste en die duidelikste erken word? Wat het die grootste bydrae gemaak tot die woordeskat, idiome en grammatika van Afrikaans? Hoe en waar en deur wie is Afrikaans ontwikkel as 'n skryftaal, 'n wetenskaplike taal, 'n kultuurtaal, 'n taal van die onderwys, 'n taal van godsdiens en gebed, en 'n taal van die digkuns en die letterkunde? Die antwoord op hierdie saakmakende vrae is nie "slawe, bediendes, of plaaswerkers nie". Dit is ook nie die Koi-San, die Hottentotte, of Maleiers wat Afrikaans ontwikkel het tot wat dit vandag is nie - dit is opsigtelik en duidelik. Maar die liberale denkers/skrywers/joernaliste wil Afrikaans graag die baadjie aantrek van "die bastertaal van 'n bastervolk" (en dit is hulle ras-georiƫnteerde woorde daarvoor!).
Sommige van die kommentators, soos Breytenbach, het miskien in gedagte dat hulle die saak vir Afrikaans sodoende makliker in die buiteland (veral in Nederland) kan verkoop. Die redenasie is: Maak dit kreools, maak dit 'n bastertaal, maak dit minder van 'n wit taal, en die Hollanders sal daarvan hou!
Die strategie is deursigtig en moreel verwerplik. Niemand wen veld deur leuens oor Afrikaans te versprei nie. In toekomstige aflewerings op hierdie werf, sal ons verder kommentaar lewer oor diƩ kwessie.

(Redakteur, 30 April 2010)
____________________________________________________________

No comments:

Post a Comment