Thursday, August 22, 2024

Nuwe asem vir die IKG vanaf 2024

 Soos dinge maar loop in die lewe, neem die gebeure van die dag eenvoudig sy loop; en kon ons hierdie blog nie gebruik soos ons wou nie. Intussen het die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis (IKG) verskeie projekte aangepak op 'n ad hoc basis, soos behoeftes ontstaan het. Dit is 'n wonderwerk dat die Blog onaangetas bly en nog steeds beskikbaar is. Ons hoop om vorentoe meer oor die IKG se werk en oor ons projekte te gesels, asook oor sake wat vir die Afrikanervolk van groot belang bly. Ons uitgangspunt sedert ons hierdie werk begin het in 2003-2007 is dat kommunikasie in Afrikanergeledere baie meer asem moet kry. Soos die naam IKG aandui, is die veld waarin ons werk baie wyd; dit gaan soms oor taalsake, dikwels oor allerlei kulturele gebeure, debatte oor die verlede, en dan weer debatte oor die toekoms. Indien jy 'n belangstellende leser/besoeker is, kan jy ons gerus volg en af en toe hier inloer. Lees ook die ouer plasings in die blog.  



Thursday, April 27, 2023

Ons vaderland, ons landskap, ons ruimte

Ek bly 'n groot ondersteuner van waterverf-kuns. Dit bied 'n gulde moontlikheid om spontaan te werk, en om verrassende effekte te bereik. Hierdie landskap is een van die voorbeelde daarvan. In teenstelling hiermee kan daar met waterverf baie presiese, gedetailleerde en goed beplande beelde geskilder word. In hierdie landskap kan mens sien hoe kleure in mekaar gevloei het.  Ek plaas dit hier om die skoonheid van ons land in herinnering te roep. Ons sing immers: DIE HOOGLAND IS ONS WONING.  Die gesprekke oor ruimtelike ordening en die toekoms van die Afrikanervolk duur onverpoos voort. Besef almal dat ons ons eersgeboortereg in 1990-1994 (ons eie vaderland) verkoop het toe die liberale "Afrikaner-regering" onder FW de Klerk besluit het om gemene saak te maak met terroristeleiers, kommuniste en  geweldenaars. So het sogenaamde "Afrikaners" van ons vaderland 'n misdaad-paradys gemaak, in plaas van 'n tuiste vir die nageslag. 


   

Wednesday, September 12, 2018

Publikasies van die IKG

Die IKG het vanjaar verskeie opsommende kommentare gelewer onder die vaandel OORSIG & REPLIEK asook FILOSOFIE & POLITIEK. Dit handel meer oor die "groter prentjie" waarin ons as Afrikaners ons bevind. Stuur gerus 'n e-pos aan redakteur48 @gmail.com  vir meer besonderhede daaroor. Ons het ook 'n verslag oor die ANC se beleid oor grondonteieining aan die parlementêre komitee wat daarmee handel, voorgelê. 'n Afskrif daarvan kan ook aangevra word. Die jaar 2018 het die verval in ons land op vele wyses aan die lig gebring; elke dag is daar nuusgebeure wat dit bevestig -- en nou het ons ook nog te doen met die amptelike erkenning dat die ekonomie in 'n resessie verkeer. Pas het die polisie se eie statistiek aangetoon dat daar nie effektiewe beheer oor misdaad is nie. Die moordsyfer het met nagenoeg 7% oor een jaar gestyg, die sesde agtereenvolgende jaar waarin die getal moorde steeds styg. Die aantal moorde het van 15 000 in 2011 tot 20 000 in 2017/18 gestyg. Die minister van polisie, Bheke Cele, het in die parlement gesê Suid-Afrika het nou in 'n oorlogsone verander.  [Redakteur, 10 Sept 2018]

Thursday, April 12, 2018

ONS e-PUBLIKASIES in 2018-2019


NUWE PROJEKTE BY DIE INSTITUUT VIR KULTUUR EN GESKIEDENIS

Regs bo verskyn 'n beeld van die e-tydskrif waarmee die IKG hierdie jaar (2018) weggespring het. Die tydskrif vaar onder die naam Filosofie & Politiek, wat ons soms afkort as FEP.
   Hieronder (regs onder) is 'n indruk van die nuusbrief met die naam OORSIG en REPLIEK.
    Die reaksie op albei hierdie e-publikasies was tot dusver baie goed; ons benodig egter baie groter deelname onder Afrikaanse lesers landwyd en oorsee. Oorsig & Repliek word gratis versprei; terwyl Filosofie & Politiek 'n inskrywingsfooi vra.  ________________________________

Doen gerus verder navraag by redakteur48 aapstert gmail.com.
__________________________________

Naskrif, 23 Aug 2024: Baie water het intussen onder die brug deurgeloop. Skrywer van hierdie nuusbriewe het oor die afgelope 30 jaar 'n verskeidenheid van rubrieke hanteer, asook spesiale publikasies van die IKG. Hierdie genoemde nuusbrief verskyn nie meer nie. Sedert 2023 het die IKG 'n aantal nuusbriewe gepubliseer en versprei onder die naam Tafelgesprekke. Nota: 23 Augustus 2024. Dit is nog beskikbaar as pdf-dokumente.

Wednesday, January 6, 2016

Nuwe gedagtes vir 2016

Die IKG het nie baie gebruik gemaak van die blogruimte oor die afgelope vier jaar nie; ons werk nog steeds aan die konsep en die aktiwiteite van die organisasie. Ons is tans meestal gerig op seminare en publikasies en beplan vir die jaar 2016 verskeie geleenthede waar ons oor geskiedkundige sake gaan gesels. Ons sal die inligting wel deurgee sodra dit verder gefinaliseer is. Miskien sal ons dan ook begin om lede te werf as gespreksgenote in hierdie blogruimte. Die werf is maar 'n voorlopige eksperiment en word nog nie volbloed bemark of bedryf nie.

Thursday, May 3, 2012

100 Jaar na De Wildt - Konferensie in Pretoria

Die IKG bied op Saterdag 26 Mei 2012 'n konferensie aan in Pretoria onder die tema: 100 Jaar na De Wildt. Generaal JBM Hertzog se toespraak by De Wildt in 1912 is die gebeurtenis waarby hierdie konferensie aansluit, en die verrigtinge vind by die Afrikanersentrum plaas. Indien u belangstel om dit by te woon kan u die volgende nommer skakel: Tel 082 9219706. (Hieronder verskyn die advertensie vir die konferensie)
Die program bestaan uit vier referate wat elkeen gevolg word deur vrae en besprekings. daar word onder andere gefokus op die optrede van generaal JBM Hertzog in die jare 1912-1914; die agtergrond tot die Rebellie van 1914; die ontwaking van die Afrikaans-nasionale strewe; en die skrywers en denkers wat in daardie era 'n belangrike rol gespeel het. Onder andere sal daar ook besin word oor die Afrikaners se Calvinistiese lewensbeskouing in die volkslewe, en kultuurprojekte soos die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die taalstryd en die onderwys was onder die nuwe arenas waarin die volkstryd voortgesit is tot groter selfstandigheid en vryheid na die Tweede Vryheidsoorlog.
















Registrasie begin om 08:00 vir 08:30. Die Afrikanersentrum is bereikbaar vanuit Paul Krugerstraat.
'n Inskrywingsfooi van R150 is betaalbaar en dit sluit 'n ligte middagete in.  -  Redaksie.
_______________________________________________________________________

Die IKG se Nuusbrief 2012


Die IKG se eerste Nuusbrief is tans in voorbereiding en sal aan al die vriende van die IKG gestuur word. Dit is 'n kort kommunikasie waarin allerlei sake aangesny en interessanthede meegedeel kan word. Die eerste Nuusbrief verskyn teen die middel van Meimaand 2012. Om 'n vriend van die IKG te word hoef u ons net u besonderhede en e-adres te stuur. Daar is geen ledegelde betaalbaar nie en die Nuusbrief word gratis versprei.  Daar verskyn ook 'n leuse onder aan die mashoof - dit weerspieël kortliks die werk wat ons saam met vriende wil aanpak: "Streef na die toekoms met standvastigheid, wysheid en geloof". Hoewel dit nie so uit president SJP Kruger se laaste boodskap kom nie, laat dié gedagte mens onwillekeurig daaraan dink.
    -  Die Redaksie. 
________________________________

Thursday, September 1, 2011

6 September 1966 - Vrae wat bly


Senior ministers en weermag-offisiere dra die kis van dr HF Verwoerd op 10 September 1966 in Pretoria.
Die verraderlike en noodlottige aanslag op die lewe van dr HF Verwoerd, die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, op 6 September 1966 bly steeds in die herinnering van die Afrikanervolk. Te oordeel aan die publikasie van boeke, briewe en radiogesprekke is dit duidelik dat die vrae rondom die gebeure van Augustus en September 1966 aktueel bly en in vele opsigte nog onbeantwoord is. Die implikasies van die gebeure word ook verskillend vertolk. In 'n onlangse film, "Roepman", word op onmiskenbare wyse daarop gesinspeel dat die dood van dr Verwoerd 'n soort emosionele verlossing vir die mense van Suid-Afrika beteken het. In 'n boek wat heelwat sensasie verwek het (Die Lang Generaal) word weer gesuggereer dat dr Hendrik van den Bergh sy moordspan gebruik het om dr Verwoerd uit die weg te ruim omdat dr Verwoerd na bewering besluit het om sy beleid te versag en 'n ander koers daarmee in te slaan. Oor Radio Pretoria is daar 'n gebalanseerde aktualiteitsprogram aangebied waaraan verskeie kenners deelgeneem het en kommentaar gelewer het oor die lewe van dr Verwoerd, oor sy betekenis vir die Afrikanervolk en die moontlike redes en motivering agter die sluipmoord op hierdie onkreukbare en standvastige volksleier. Van die belangrikste kwessies rondom die sluipmoord is die volgende:
  1. Dit is duidelik dat daar die een of ander voorkennis of antisipasie was van die aanslag op dr Verwoerd se lewe. Eerstens is daar die getuienis dat die dood van dr Verwoerd ter sprake gekom het by die Kaapse hawe waar daar op 'n Griekse skip (die Eleni) navraag gedoen is oor die dood van dr Verwoerd  - dit was op 3 September, drie dae voor die moord! Die sluipmoordenaar (Dimitrio Tsafendakis) het oor 'n tydperk van 40 dae talle besoeke afgelê by hierdie skip en hy het daar wapens probeer bekom. Daar was ook 'n soortgelyke berig van 'n navraag oor die aanval in Brittanje. Tweedens was daar die uitgawe van die Amerikaanse tydskrif TIME, 'n week voor die aanslag, waarin 'n krasse tekening van dr Verwoerd prominent op die voorblad geplaas is en daar gesuggereer is dat dr Verwoerd se party verdeeld is en sy vyande aktief is binne die Nasionale Party. Dan was daar derdens 'n uitgebreide voorbladberig in 'n Sondagblad, ook 'n week voor die sluipmoord, wat berig het dat dr Verwoerd se leierskap bevraagteken word en dat daar gedink word daaraan om dr Verwoerd as leier van die NP te vervang met iemand van buite die parlement en van buite die politieke arena. Dr Anton Rupert se naam word vervolgens pertinent genoem as die moontlike opvolger vir dr Verwoerd. Die berig lui op 'n onheilspellende toon dat "die messe uit is in die Nasionale Party" en dat dit gemik was op dr Verwoerd se leierskap. (Dr Verwoerd is met vier messteke om die lewe gebring in sy bank in die Volksraad.)
  2. In sy boek A Very Strange Society, gebaseer op 'n uitgebreide toer in Suid-Afrika, juis in die maande wat die sluipmoord voorafgegaan het, word daar berig oor die skrywer (Alan Drury) se vertroulike gesprekke met prominente Kaapse sakelui, belangrike joernaliste en akademici wat gewag gemaak het van groot veranderinge in die beleid van die NP wat binne enkele jare sou kom. Hulle het duidelik daarop gesinspeel dat dr Verwoerd op pad uit was. Wat het hierdie belangrike mense geweet? Waarom was hulle so seker dat daar sogenaamde "groot veranderinge" in beleid gaan kom? Op welke basis kon hulle dit weet, as dr Verwoerd op die kruin van sy loopbaan gestaan het, inderdaad blakend gesond was en wye vertroue geniet het in sy eie party, en toenemend ook steun ontvang het van Engelssprekendes?
  3. Een van die tergende vrae, wat dikwels na vore kom is: Wie kon voordeel getrek het uit die sluipmoord? In enige kriminele ondersoek is dit 'n standaardvraag wat speurders op die spoor van die skuldiges kan plaas. In hierdie verband is dit duidelik dat twee persone direk voordeel getrek het uit die gebeure: Mnr John Vorster ('n relatiewe junior minister in dr Verwoerd se kabinet) het dr Verwoerd opgevolg as Eerste Minister, en generaal HJ van den Bergh (o.a. verantwoordelik vir dr Verwoerd se veiligheid, vanuit sy hoedanigheid as Hoof van die Veiligheidspolisie) het as mnr John Vorster se vertroueling in 'n ongekende magsposisie ingeskuif. In 1969 is hy deur mnr Vorster aangestel as die Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Beide hierdie figure was in die veertigerjare lede van die Ossewabrandwag, en mnr Vorster het eers in 1953 by die Nasionale Party aangesluit. Die Buro (BOSS) het onmiddellik in sy werksaamhede aandag geskenk aan mnr Vorster se politieke opponente in Afrikanergeledere. Daar is natuurlik ook andere wat voordeel getrek het - baie spesifiek ook die groep "Kaapse sakelui, joernaliste en akademici" waarna Alan Drury in sy boek verwys het. Hulle was na die sluipmoord in staat om die NP se beleid in 'n liberale en linkse rigting te stoot; presies volgens die oogmerke en verwagtings wat hulle voor die sluipmoord uitgespreek het.
  4. 'n Belangrike aspek waaroor daar al meer vrae gevra word is waarom die ondersoek na die sluipmoord so vinnig afgehandel is - dit is binne twee maande voltooi. Hierdie haas en oppervlakkigheid van die ondersoek (uitgevoer deur 'n eenman-kommisie) staan in kontras met die Warren-kommissie se ondersoek na die sluipmoord op president John F Kennedy. In Kennedy se geval is 'n enorme span ondersoekers gebruik en het die verslag (wat duisende bladsy beslaan het) eers 'n jaar later verskyn. In die geval van die ondersoek na die aanslag op dr Verwoerd is 'n skamele verslag van dertig bladsye in die Staatskoerant gepubliseer. Aan die moontlike nalatigheid van die SA Polisie word daar slegs enkele bladsye gewy; terwyl die fokus verskuif word na die nalatigheid van junior amptenare in die Departement van Binnelandse Sake.
  5. In enige staat met selfrespek, of in 'n regerende party met selfrespek, sou die verantwoordelike minister of ministers (in hierdie geval mnr Vorster van Justisie , en die minister van Binnelandse Sake) moes bedank het; asook die hoof van die veiligheidspolisie, in hierdie geval generaal Hendrik van den Bergh. In plaas van afgedank te word het hierdie twee here die magtigste manne in die regering geword.
  6. Uit 'n politieke hoek beskou is dit vandag duidelik dat mnr John Vorster spoedig nadat hy as leier verkies is, die Nasionale Party se beleid in 'n liberale rigting begin stoot het - in vele opsigte in stryd met die standpunte en beleid van dr HF Verwoerd. Mens dink in hierdie verband onmiddellik aan veranderings tov die sportbeleid van die NP, die hantering van die Suidwes-Afrika vraagstuk en mnr Vorster se optrede jeens Rhodesië en die Portugese gebiede, naamlik Mosambiek en Angola. Mnr Vorster het so sterk weggeswaai van die Verwoerd-denkbeeld dat dit tot 'n ernstige skeuring in die NP gelei het, binne slegs drie jaar nadat hy die leier van die NP geword het. Die Erika Theron Kommissie ivm die posisie van die Kleurlinge is spoedig daarna aangewys en daaruit het die hele proses van grondwetlike hervorming in die RSA ontstaan - in ooreenstemming met die wense van die sakelui en joernaliste met wie Alan Drury voor die sluipmoord vertroulike gesprekke gevoer het.

Friday, June 3, 2011

Dr HF Verwoerd en die Republiek van 1961


Dit was opvallend dat daar by verskeie geleenthede die afgelope week aandag gegee is aan Republiekwording in 1961, al was daar nie op hierdie 50ste herdenkingsdag 'n amptelike staatsherdenking nie; die ANC-bewind het die oorsprong van die onafhanklike, selfstandige Republiek en ons vrywording van alle Britse bande in geheel geïgnoreer. maar Afrikaners het onthou. Die ANC beskou geen prestasie van die Republiek voor 1994 as iets wat geldig of waardevol is nie - die publiek se geheue moet vassteek by hulle weergawe van die geskiedenis; 1994 is dus Jaar Nul vir die ANC. Maar vir Afrikaners is die gebeure van 1961 van groot betekenis; en daarmee saam die merkwaardige leierskap van dr Hendrik French Verwoerd wat die finale fase van Republiekwording so meesterlik gelei het. In al sy toesprake destyds het hy uit sy pad gegaan om erkenning te verleen aan sy voorgangers, maar mettertyd is na hom verwys as "die argitek van die Republiek". Dit kon ook nie anders nie; sy naam sal altyd aan die ingrypende geskiedenis van die jare sestig en die vroeë prestasies van die Republiek verbind word. Daar was oor die afgelope weke hulde gebring op verskeie maniere aan die nagedagtenis van dr Verwoerd. 'n Borsbeeld is in 'n storm van kontroverse en polemiek van Meyerton na Pretoria gebring, dit is in Kleinfontein onthul op 'n spesiale geleentheid; die GHA het in sy lyfblad Tolbos verskeie artikels geplaas oor die rol van dr Verwoerd tydens Republiekwording, en in die Willie Marais-Afrikanersentrum in Pretoria is 'n gedenkaand gehou waartydens daar eweneens hulde aan dr Verwoerd gebring is. Dit is duidelik dat die figuur van dr Verwoerd, soos dié van president SJP Kruger, nie gaan verdwyn uit die volkslewe soos baie gewens het dit sou gebeur nie. Al het die ANC-SAKP bewind soveel name reeds verander om sy nagedagtenis uit te wis, en al is hoeveel standbeelde en borsbeelde al verwyder, kan die volksgeheue nie so maklik verknoei word nie. In die huidige era word dit al hoe duideliker dat die stabiliteit, orde en ekonomiese groei wat destyds in die onmiddellike jare na 1961 in Suid-Afrika gevolg het in skerp kontras staan met die rekord van die ANC-SAKP bewind na hul oorname in 1994. Die geweld in Natal tussen strydende groepe het byvoorbeeld nog vir drie tot vier jaar na 1994 voortgeduur; en daarby het die ANC-SAKP 'n kultuur van stakings, wanbesteding van staatsfondse, korrupsie en nepotisme gevestig - 'n toedrag van sake wat steeds voortduur. 'n Prominente skrywer, wat nie apartheid ondersteun nie, het onlangs opgemerk: "Die onderdrukking en tirannie (sic!) van die vorige era is vervang met 'n tirannie van geweld in die Nuwe Suid-Afrika". Soos vir daardie skrywer, word die apartheidsjare deur baie mense gesien as 'n tydvak van onderdrukking - tog was die Verwoerdvisie een waarin daar volle staatkundige, politieke en ekonomiese vryheid voorsien sou word aan elke volk in Suid-Afrika. Verskeie van hierdie volke het inderdaad in die dekade sewentig onafhanklik geword of volle selfbestuur verkry. Ontwikkelingskorporasies is in elke staat gevestig, en hierdie liggame was besig om sinvol te werk aan langtermyn infrastruktuur. Universiteite en skole is op etnies-kulturele grondslag gevestig en uitgebou. Nou is daardie geleenthede van alle volke van Suid-Afrika ontneem, en in die plek daarvan beleef Suid-Afrika 'n vorm van meerderheidsdiktatuur, lewe die burgers van die land onder die tirannie van misdaad en geweld - soos die skrywer waarna ek verwys het dit gestel het. In die plek van vrede, orde, stabiliteit en sinvolle etniese ontwikkeling sien die nuwe RSA ernstige verval in dienslewering, die wye misbruik van mag, en onbeholpenheid in die gewone staatsadministrasie. Die regering van Suid-Afrika begin al meer wegsink in die Afrika-patroon: deur eie bevoordeling, deur die skandelike verryking van regeringslui en hulle vriende, en gaandeweg deur die vernietiging van beskaafde standaarde. Dit alles bring die herinnering aan die Verwoerd-era weer op die voorgrond, omdat daardie era 'n kontrasterende voorbeeld bied van hoe uitnemende landsregering behoort te lyk.
________________________________________
(Plasing: 4 Junie 2011. Deur 'n Medewerker.)

Sunday, May 29, 2011

In Memoriam: Dr JJ Steenkamp 1946-2011

Die afsterwe van dr JJ (Stone) Steenkamp van Kameeldrift, Pretoria, na 'n tragiese motorongeluk, laat 'n yslike leemte in ons Afrikaanse kerklike- en kultuurkringe. Hy was 'n deeglik-onderlegde en kritiese denker aan die behoudende kant van die Afrikanervolk; en sy spore lê diep getrap in die stryd van die afgelope 40 jaar. Reeds in studentedae by die Universiteit van Pretoria het Stony Steenkamp, soos ons hom almal genoem het, sterk uitgestaan as iemand wat sake beoordeel op grond van sy Christelike beginsels en die beste Afrikanertradisie; maar hy was wat hierdie sake betref altyd waaksaam en gebalanseerd in sy uitsprake of en in sy optrede. Hy het eerder teruggekeer na die grondtekste en die oorspronklike vrae, as om bloot sy persoonlike mening te lug; vir hom was die aanwysers van die Afrikanervolk se leiers in die verlede, hul gefundeerde beskouings, van sy belangrike aanknopingspunte in enige gesprek. In die teologie en in kerklike kringe was dit dan ook sy kenmerkende werkwyse: hy sou steeds vra na die riglyne van die gelowige denkers wat ons Reformatoriese kerke ten grondslag lê. In hierdie strewe was 'n figuur soos Johannes Calvyn vir hom van sleutelbelang, asook uiteraard, dit wat die Skrif leer aangaande ons lewens- en geloofstaak. Dr Steenkamp het nie 'n skeidslyn getrek tussen geloof en kultuur, of tussen geloof en jou politieke oortuigings nie; daar moes 'n kongruente beskouing in jou lewe wees wat deurwerk op alle terreine. In wese is dit die kern van die Calvinistiese filosofie. En dit staan teenoor die gefragmenteerde, ongefundeerde, en pragmatiese denke van die liberalisme; en lynreg teen die rewolusionêre, reduksionistiese denke van die Marxisme wat slegs die materiële sy van sake raaksien.
Omdat sy denke so bewapen was, ook deur 'n intense studie van oorspronklike skrywers en primêre bronne, het dr JJ Steenkamp in die kringe van die Hervormde Kerk van Afrika talle beredeneerde lesings, preke en geskrifte gelewer wat Afrikaners tot besinning gebring het oor die tendense van die tyd, oor die gevare van die politieke omwentelings in Suid-Afrika en die aanslae op die Kerk en sy belydenis. Daarin kon lesers of luisteraars altyd 'n duidelike reformatoriese stem verneem - ook wanneer dit gegaan het oor die toepassing van beginsels in die alledaagse lewe, hetsy wat politieke of kulturele sake aanbetref. Hy het die aanslae van buite op die Afrikaanse volkslewe bestudeer, die aanvalle op die Afrikaners se kerke en die aanslae op die geloofslewe self - en kon daaroor gesaghebbend praat. Min predikante doen hierdie soort moeite sedert die nuwe liberale denke in die sestigerjare in die Afrikaanse kultuurlewe populêr begin raak het en deur al hoe meer teoloë nagevolg is.
Dit is dan geen wonder nie, dat dr JJ Steenkamp in die jongste verwikkelinge in die Hervormde Kerk 'n leiersrol sou speel nie. Juis in hierdie opsig laat hy 'n onmiddellike leemte - te meer so, omdat "Stony" ook die goeie diplomaat was, die gebalanseerde en kalm denker by wie almal om raad aangeklop het. Met sy heengeen moet ons afskeid neem van 'n gewaardeerde vriend, 'n stoere en onwrikbare Afrikaner, en van 'n geloofsmens wat nie teruggedeins het vir die moeilikhede van ons tyd nie. Hy het moed gehad. Hy was 'n leier. Ons sal hom altyd mis.
______________________________________________________________
(Bydrae deur 'n medewerker) 29 Mei 2011